DVD-klubs

DVDGroepFoto.jpgElke Saterdagoggend wanneer ek, Retha en Karin by Die Heuwelwoonstelblok stilhou, wag dieselfde vriendelike gesigte ons in. Gretig word daar gehelp om die benodigdhede vir die DVD-klub uit die motors te laai, terwyl hul alreeds begin om die stories van die afgelope week te vertel. Binne die saaltjie wat ons tot ons beskikking het, word tafels reggeskuif, DVD’s uitgepak en ketel aangeskakel vir die onmisbare koffie-en-beskuit ritueel. Tussendeur word DVD’s al uitgeruil, terwyl ander asseblief onverdeelde aandag wil hê, sodat hulle die hoogte- of laagtepunte van hul week persoonlik kan bespreek.

Die DVD-klub het ten doel om opbouende, positiewe kykstof vir ons lede beskikbaar te stel, asook om persoonlik in te bou in klublede se lewens deur Jesus se liefde en genade met hulle te deel. Ons lede bestaan inderdaad uit ‘n wye verskeidenheid mense. Soms raak ‘n mens oorweldig deur die realiteit van armoede, gestremdheid en afwesigheid van basiese vaardighede. En tog: Al kan die LIG-DVD-klub nie ons lede se omstandighede verander nie, kan ons met ‘n koppie koffie en beskuit die koue, grys oggend ‘n bietjie warmer maak. Ons kan deur net te luister, iemand belangrik en spesiaal laat voel. Ons kán Sy Woord nuwe betekenis gee... ook deur die boodskappe van ons DVD’s. Ons en hulle, is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee. (Fil 4:13)

Vilene Jacobs

Sondagdienste

Antipas Gereformeerde Baptiste-gemeente Pretoria-Wes-bediening. So drie of wat jaar gelede het ‘n paar lidmate van Antipas Gereformeerde Baptiste-gemeente kennis gemaak met LIG Kinderbediening. Hulle was diep geraak deur die merkwaardige bediening van die LIG span en die Here het hierdie lidmate van Antipas oortuig van die nood aan ‘n geestelike bediening gerig op volwassenes in daardie areas van Pretoria-Wes waar LIG Kinderbediening werk. Die visie is om gesonde huislike omstandighede te vestig sodat van die kinders wat deur LIG vir die Here bereik word, ondersteuning van hulle ouers of voogde sal geniet. Met dié doel voor oë, word die Evangelie van God se vrye genade in Jesus Christus tans Sondagoggende by die Heuwel-woonstelle verkondig. Die bediening is interkerklik en enigeen wat ‘n geestelike behoefte of belangstelling het, is meer as welkom. Ons begeerte is om die Woordverkondiging ook na die Danville Kamers uit te brei en ons vertrou dat die Here ook mettertyd daarvoor sal voorsien. In samewerking met LIG, het Antipas in 2012 ‘n gesinskamp vir ongeveer veertig Pretoria-Wes gesinne aangebied. Dit was so ‘n groot sukses dat dit hierdie jaar weer aangebied is en ongeveer sestig gesinne het dit bygewoon. Daar was by elke kamp groot geestelike deurbrake gemaak en ons bid dat die Here die saad wat gesaai word, sal laat groei. As die Here so lei, sal ons in 2014 weer so wil maak, maar dit is nog vroeë dae.

Hendrik Keller

© Copyright 2004-2017 - Ligkinderbediening
This site is powered by CMS Made Simple | Website by ModernHieroglyphics