Kinderkampe

DSC_3670.jpgKamptyd by LIG Kinderbediening is ‘n opwindende tyd van voorbereiding: alles, van geestelike lesse gereed maak, groepindelings, paklyste opstel, ens. Dit alles sodat ons blink ogies vol verwagting op Vrydagaand by die kampterrein kan verwelkom. Vir ‘n volle naweek het ons die geleentheid om op legio maniere Jesus se liefde met kinders te deel. Dit spreek dus vanself dat ons die geestelike program sover moontlik, vir die kinders ‘n onvergeetlike belewenis wil maak. Saterdagaand se les is ongelukkig gewoonlik ‘n effense uitdaging: na ‘n dag volgeprop met speletjies, swem, handaktiwiteite en nog vele meer, word ons gewoonlik op ‘n Saterdagaand begroet met leep-ogies wat smeek vir ‘n bed.

Lana se wonderlike Sendingreis by 2013 se kamp, was presies wat nodig was om nuwe lewe in ons kleintjies te bring. Hulle gaan op ‘n sendingreis deur verskillende lande en ervaar wat dit beteken om ‘n sendeling in hierdie lande te wees. Naweekkampe is propvol pret van die oomblik wat hulle Vrydagmiddag op die bus klim totdat hulle Sondag weer op die bus klim om huistoe te gaan. Vrydagmiddag staan die groepieleiers opgewonde en wag vir die bus om aan te kom en sodra ons daardie eerste gesiggies van die bus sien afklim, begin ‘n uitdagende, maar baie belonende naweek. Ons word moontlik gemaak deur ons groepieleiers, kosspanne en skenkers. Sonder hierdie wonderlike mense sou ons dit nie kon doen nie. Die groepieleiers is soos mamma en pappa vir die naweek en die kosspan help die vol magies om beter te luister as die lesse aangebied word. Ons gebed is dat die kampe meer as net mooi herinneringe vir die kinders sal wees, maar dat hulle sal besef dat die Almagtige God wonderlike dinge in hulle lewens wil en kan doen, en dat ons nooit alleen is nie, maar dat die Heilige Gees by ons is en vir ons krag gee om te gaan vertel wat God gedoen het.
Adri Muller

LIG-TIC kampe vir tieners

Soos met die kinderkampe het ons ook elke jaar 'n tienerkamp. In 2011 was dit 'n gemengde kamp vir seuns en dogters, maar van 12 tot 14 Oktober 2012 was daar twee aparte kampe, een vir die seuns en een vir die dogters.

DSC_0042.jpgDie seunskamp se tema was “Do Hard things,” en saam met 'n span vrywilligers is daar ver gery om 'n naweek in die natuur deur te bring. Die doel van die kamp was om die seuns uit te daag om te dink oor die keuses wat hulle in hulle lewens maak. Die idee was dan om die seuns deur middel van 'n paar moeilike take iets te leer van hoe hulle ingesteldheid 'n uitwerking het op die uitkoms van hul keuses, bv: Wat is die taak voor jou? Hoe benader jy dit? Watter waardes lei jou in die manier waarop jy dit aanpak? Hoe sal 'n volgeling van Jesus dit doen? En omdat dit 'n kamp spesifiek vir seuns is, het die aanbieders ook elkeen getuig van moeilike keuses wat hulle as mans al gemaak het. Foute wat hulle gemaak het, oorwinnings, nederlae en die manier waarop hulle dit hanteer het. Hendrikus en Jac het hulle uitstekend van hul taak gekwyt deur die geestelike boodskap vas te knoop aan moeilike take. Ons glo en vertrou dat Sy Gees die werk sal voltooi wat Hy in hulle begin het.
Gustaf Pretorius

LKB 13-10-2012 053.jpgDie tienerdogters se kamp (ook van 12-14 Oktober 2012) het gefokus op die tema “Ek Kan met God se PLAN.” Die Saterdagaand-dinee met pragtige gedekte tafels (die meeste van hierdie dogters eet nooit by tafels nie want daar is nie plek vir tafels in hulle beknopte woonplekke nie) was 'n treffer en die riglyne oor tafeletiket is met groot opgewondenheid ontvang. Die hoogtepunt was Sondagoggend toe 'n Graad 8-meisietjie uit 'n blanke plakkerskamp getuig het hoe sy staande bly met Jesus se krag ten spyte van moeilike omstadighede en 'n werklose pappa wat hulle enigste geldjies uitdrink. Haar storie het aangesluit by die oggend se tema en onder baie trane het verskeie tienerdogters aangemeld vir berading met die versoek dat hulle Jesus as Verlosser wil aanneem.

Rina Grobler

LIG-TIC-Visvangklub

DSC_0038.jpg“Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen (selfs visvang), doen alles tot eer van God” (1 Korintiërs 10:31). Wat 'n voorreg om te weet dat God selfs belangstel in visvang, solank ons dit tot sy eer doen! Die LIG-TIC-visvangklub bestaan nou al drie jaar, en ons het reeds drie visvanguitstappies gehad: een na Bloemhofdam en twee na 'n plaas langs die Wilgerrivier by Frankfort. By die dam of rivier aangekom - met 6 tot 8 tienerseuns en 'n paar Christenmans, - word die voertuie haastig afgepak. Na aandete sleep ons met groot verwagting haastig weg water toe. Vrydagaand is die katrolle en alarmpies stil, dus gaan kruip ons maar teen middernag in ons tente in. Saterdagoggend teen vyfuur ontwaak die manne, woes deurmekaar. Daar is nie nog tyd vir was en hare kam nie, want ons wil visvang! Weereens word strategiese stroppe, aas, afstand en mieliebomme beplan. So teen sesuur is al die stokke in die water. Ons kuier lekker en deur die loop van die dag word meeste van die manne beloon met 'n vis. Sondagoggend het ons ook 'n paar ure se visvang ingewerk, maar soos alle goeie dinge moes ons naweek ook tot 'n einde kom. Die resultate van ons naweek was beter as wat ons verwag het, en sluit 7 verskillende spesies visse in. Aan die Here kom al die eer toe vir so 'n wonderlike naweek.

Ek het die voorreg om in ons stiltetye vir die seuns te leer wie Jesus is. Verder het ons volwasse mans die voorreg om Jesus uit te beeld in die manier hoe ons voor hierdie tienerseuns gesels en optree. My gebed is dat die suns wat nie 'n pa in die huis het nie, eendag sal terugkyk en sê: oom Hendrikus, of oom Hannes, of oom Jac was vir my soos 'n pa, en het my gelei na 'n verhouding met my Hemelse Pa.
Hendrikus Hitge

Vakansieprogram

IMG_6663.jpgDit is weer sulke tyd, lekker speeltyd! Ons bied elke jaar in die Junie-vakansie 'n vakansieprogram by NG Kerk Wespoort aan. Vroegoggend ry die bus om die kinders te gaan oplaai en ons begin die dag met 'n lekker beker Milo en 'n stukkie beskuit. Dan is dit tyd vir die geestelike program, gevolg deur die handaktiwiteit en georganiseerde sport. Middagete is altyd 'n hoogtepunt, want teen daardie tyd is ons almal al goed honger.

Ons hoogtepunt vir die week is gewoonlik die uitstappie op die Vrydag, waar ons baie nuwe dinge leer en ook 'n geleentheid kry om bietjie in 'n plaasatmosfeer te speel en te lag. Ons het hierdie jaar van die 30ste Junie tot die 4de Julie ons vakansieprogram by NG Kerk Wespoort aangebied. Ons as span is altyd baie opgewonde en vertrou steeds dat die Here wonderwerke gaan doen en lewens gaan verander. Om hierdie vakansieprogram elke jaar moontlik te maak het ons egter baie hulp nodig, en dit is waar julle inkom. Ons beoog gewoonlik om die program vir ± 120 kinders aan te bied en het die volgende dinge nodig.


  1. 24 Groepieleiers wat kan ‘commit’ vir die 5 dae,
  2. Sop en broodjies vir 150 mense vir 2 dae,
  3. Milo, koffie, melk, suiker, koekies, koeldrank en beskuit vir almal vir elke dag,
  4. 2 middagetes vir almal (byvoorbeeld hamburgers of vetkoek en maalvleis),
  5. Baie vrugte,
  6. Braaiwors vir die Uitstappiedag,
  7. Iemand wat vir een dag kan kom speletjies aanbied vir 120 kinders,
  8. Iemand wat vir een dag ’n handaktiwiteit kan kom aanbied (die ander dae se speletjies en handaktiwiteite hanteer ons self)
  9. Kolwyntjies en/of pakkies tjips
  10. Fondse: Borge @R200 per kind. Totale koste: ±R24 000. Busse alleen: R13 800 (R1900 per dag om die Heuwel-kinders aan te ry Danville toe en dan R6200 vir 2 busse Willem Prinsloo toe)

  11. Baie gebed vir al bogenoemde reëlings asseblief!

As jy dalk net een of twee dae kan kom sal dit ook werk. Ons program loop van 8:30 tot 1:30. As julle met enige van die bogenoemde kan help sal ons dit BAIE waardeer. En onthou - dit wat ons as LIG-span in die verlede deur elke kamp en vakansieprogram gedra het, was julle gebede. Daarom wil ek vra dat julle asseblief vir ons sal bid: i) Vir ons voorbereiding, ii) Vir elke kind wat deel gaan wees van ons program, iii) Vir die veiligheid van die kinders en die span. Ons is so dankbaar dat ons kan weet dat julle as soldate in Christus in gebed agter ons staan. God seën julle!


Adri Muller

Uitstappies

IMG_7045.jpgDie uitstappies is elke jaar ‘n groot hoogtepunt op ons kalender. Die kinders is nie gewoond aan die buitelewe nie, en dit is wonderlik om hulle op die oop grasperke te sien hardloop en speel. Die dag is gewoonlik vol speletjies en pret en swemtyd is altyd 'n hoogtepunt. Om 'n dag in die son sonder kommer net kind te kan wees van die bus die oggend vertrek totdat ons die middag laat weer terugkeer is ‘n heerlike ervaring vir kind en volwassene. Dit is so lekker om die vreugde en genot op ontspanne kindergesiggies te beleef. Dank die Here daarvoor.

Lientjie Gouws

© Copyright 2004-2017 - Ligkinderbediening
This site is powered by CMS Made Simple | Website by ModernHieroglyphics